Bestmed Cycle4CANSA se Nuwe Bergfietsroete Maak Deure Oop vir Plaaslike Gemeenskap
Benewens bergfietsryers wat kan uitsien na ‘n uitdagende nuwe roete, gaan inwoners in die omgewing van Rustenburg ook voordeel trek uit die nuwe bergfietsroete van die Bestmed Cycle4CANSA, wat aanstaande naweek in samewerking met die Optimum Groep by Sun City aangebied word.
Dit volg ná ‘n ooreenkoms tussen die wedrenorganiseerder, Mauritz Meyer, en die Royal Bafokeng-stamhoof om met opheffingswerk onder die plaaslike gemeenskap te begin.
Meyer is welbekend vir sy opheffingswerk onder behoeftiges in Pretoria en gaan nou sy projekte uitbrei na die Rustenburg-gemeenskap. “Die hoofman het vir my gesê hy wil nie geld hê vir die gebruik van hul grond nie, maar hy wil liewer sien dat die plaaslike gemeenskap voordeel trek uit die konsessie wat die wedren geniet om op hul grond toegelaat word,” het Meyer gesê.
Meyer se Hectic Promotions-liefdadigheidsorganisasie is al drie jaar besig met ‘n verskeidenheid projekte in Pretoria, waaronder die Green Caps-herwinningsprojek en die Winter Woolies breiprojek. Sy span werk ook onverpoos aan die opknapping van staatsklinieke, die Choc-kankerorganisasie se huise asook staatsbiblioteke in Pretoria.
“Hierdie wending gee ons nou die geleentheid om die projekte uit te brei na Rustenburg en dis lekker om met die Royal Bafokeng-stamhoof te kan saamwerk.
“Ons sal indiepte kyk na die behoeftes van die mense en ‘n daadwerklike verskil probeer maak in hul daaglikse bestaan. Ons sal veral fokus op die opknapping van skole in die gebied en my span gaan die omgewing mooi maak met kunswerke wat ons uit herwinbare bande maak.”
Die nuwe bergfietsroete is ‘n welkome toevoeging tot die naweek se fietsry en dit sal die eerste keer wees dat jaers ‘n volle 50km-roete kan voltooi. Voorheen moes jaers twee rondtes van ‘n 25km-baan voltooi om 50km af te lê.
Die Bestmed Cycle4CANSA word aangebied in samewerking met die Optimum Groep en bied ‘n hele naweek se fietsrypret by die gewilde vakansiebestemming in Noordwes. Vanjaar is die 22ste bestaansjaar van die wedren.
“Ons werk al sedert die begin van die jaar aan die nuwe bergfietsroete en ons glo fietsryers gaan dit baie geniet. Die bestaande roete is uitgebrei in die Letsateng-wildreservaat en daar is indrukwekkende nuwe seksies ingesluit rondom die twee gholfbane.”
Die roete bied klimwerk van sowat 690 meter in totaal, wat dit aldus Meyer uitdagend maak, maar nie moordend nie. “Jaers in die 50km kan uitsien na ‘n gebalanseerde roete met baie verskeidenheid.”
Die eerste 10km vind op grondpaaie en tweespoorpaaie plaas, wat opeenhoping sal voorkom met groot bondels wat saam wegspring. Daarna sal jaers koers kies na die weste van Sun City en ‘n gewilde gedeelte afle wat vroeër jare deel gevorm het van die wedren, en vanjaar weer beskikbaar is na harde werk om dit weer toeganklik te maak.
Die roete sluit aan by die teerpad deur Sun City en gaan dan oor na die baie gewilde gholfbane en die Letsateng-reservaat voordat dit weer onder die Sun City “Sky Train” klaarmaak.
“Met die uitbreidings en nuwe gedeeltes gaan jaers baie meer vryheid beleef en nie voel asof hulle knaend opmekaar ry nie. Dit laat ons toe om ook vanjaar meer fietsryers te akkomodeer,” het Meyer gesê.
“Dis ‘n eerlike bergfietsroete in elke sin van die woord. Ons het besef dat, indien ons die bergfietsbeen van die naweek wil laat groei, ons nie meer ‘n twee-rondte 50km-roete kan aanbied nie.
“Dis ‘n besonderse oomblik vir die byeenkoms en ons is trots daarop om eindelik ‘n volle 50km te kan aanbied.”
Die nuwe roete-kaart is beskikbaar op die wedren se webtuiste www.cansalostcity.co.za. Afstande waaruit jaers vanjaar kan kies is 10km, 25km en 50km.
Terwyl bergfietsryers Saterdag aan die beurt is, pak deelnemers Sondag die padwedrenne en kan kies tussen 70km en 103km.
Die Bestmed Cycle4CANSA is ‘n keuringswedren vir die Kaapstadse Fietstoer en fondse wat deur die wedren ingesamel word, word geskenk aan die Kankervereniging van Suid-Afrika.
Alle deelnemers ontvang gratis ingang na die Valley of Waves sowel as die South African Sport Hall of Fam
Vir meer inligting besoek:
Volg die wedren op Facebook @cycle4cansa